'n Stappie deur sy lewe, sy
gedagtes en sy tyd in Suid- en Suidwes-Afrika/Namibië
Alle Gebeure, van die Anglo-Boere-Oorlog tot die onafhanklikhede van Namibië
en Suid-Afrika word in geselsvorm noukeurig op 604 bladsye bespreek.
Uitgewers: Publishing World SA, Kaapstad.
ISBN: 978-1-928350-35-4
Om die skrywer direk te kontakteer, sien www.deetlefs.ch
Vir verdere bekendstellings met die skrywer hou die media
van u omgewing dop!
Um mit dem Author direkt Kontakt aufzunehmen, wenden Sie sich bitte an www.deetlefs.ch
Weitere Bekanntmachungen des Buches durch den Author auch gemäss Anzeigen
in Ihrer lokalen Presse!
To get into contact with the author directly please make use of www.deetlefs.ch
Meet the author an get to know his book! Have an eye on your local press!
Voorwoord van Prof. Dr. Dap Louw
Dis Januarie 1953. Ek kan nie
onthou nie, maar tipies van Suidwes moes dit 'n warm dag gewees het.
Maar dis nie belangrik nie. Wel baie belangrik is, is dat dit die Groot
Dag is --- ek gaan skool toe! Emma Hoogenhout Laerskool in Windhoek,
regoor die Alte Feste.
Toe al die ouers weg is, staan ons bedremmeld voor ons klaskamer. My
oog vang 'n outjie met 'n vriendelike gesiggie, so ‘Duits’ aangetrek. “Dis
mnr Deetlefs, die Duits-onderwyser by die Hoërskool se seun”, hoor
ek. “My naam is Hannes’, sê hy.
En in 2016 is ons steeds vriende.
Ongelukkig is ons nabye vriendskap vroeg in hoërskool onderbreek toe Hannes
se pa hoof word van 'n vooraanstaande Duitse hoërskool in Johannesburg.
Maar ek het bly wonder wat van ou Hannes geword het.
Na baie jare sien ek op 'n dag 'n brief wat in Afrikaans aan 'n bekende
Suid-Afrikaanse tydskrif geskryf is. Deur Hannes Deetlefs, „Ons Tuiste“, Harmonieweg
4, Lütisburg, Switserland. Hannes in Switserland? Kan dit wees? Hy was
mos so lief vir Afrikaans. Ek skryf dadelik. Ja, dis hy!
Hulle kom kuier. Ons gaan kuier. En saam kuier ons 'n hond uit 'n bos. Ons
haal in op die baie ure wat onaangeraak gelê het. En, soos ons altyd in Suidwes
gesê het, slaan ons saam 'n paar murgbeentjies om die vuur uit.
Maar ek sien ook 'n weemoed-verlange in my ou maat se oë. En so mettertyd
ontvou 'n verhaal waaroor boeke geskryf en selfs films gemaak word:
Hannes ontmoet vir Annemarie, 'n Switserse toeris, in Suid-Afrika. “My
droomvrou”. Hy gaan hou skool in Swakopmund en sy kry ook 'n pos daar.
Hulle trou in 1973. “My beker loop oor”. Toe die treurige nuus; hulle
kan nie kinders hê nie. Besluit om aan te neem. Pragtige babadogtertjie,
gebore op Republiekdag 1976, Christa Deetlefs. Die enigste „Republiekbaba“ wat
nie in die koerante verskyn het nie. “Ons is in die Hemel”. Maar
vinnig gebeur dit – in 'n ras-en kleurbehepte Suid-Afrika en Suidwes: Christa
se velletjie word al hoe donkerder en die haartjies krul al hoe meer. Die maatskaplike
werkers kom baie dikwels ‘inspekteer’ en vind dit totaal onaanvaarbaar,
hoewel dit hulle ‘fout’ was. En teen die wet. “Julle moet die
kind vir 'n blanke baba ruil’, sê hulle. Hannes skop vas: “Dis
my kind, in my naam gedoop”. Annemarie kan as Switserse dame die opskudding
hoegenaamd nie verstaan nie. Dis dan 'n onskuldige kind – my kind. Wat
het sy aan julle gedoen? 'n Griekse tragedie speel hom af aan die suidwestelike
deel van Afrika.
Die Deetlefs-gesin is by verward verby. Hulle word gekasty, ook deur vriende
en familie. 'n Dierbare familielid weier selfs om aan die kind te raak.
Toe bars die emosionele bom. By 'n restaurant is die eienaar adamant: “U,
mevrou, is wit. U man kan as wit deurgaan. Julle kan dus inkom --- maar nie
daai swart kind van julle nie.”
Die moeilike, maar logiese besluit: Hulle gaan Switserland toe. “Dap, ek
moes tussen my land en my kind kies”. Sophie’s Choice.
In Switserland gaan dit moeilik: “Ek is die bont hond van die dorp”.
Sy Suid-Afrikaanse kwalifikasies word nie erken nie, sy blanke Suid-Afrikanerskap
word teen hom gehou. Dierbare Annemarie (wat steeds vandag Afrikaans vlot praat)
moes die pot aan die kook hou.
Mettertyd begin die son weer skyn. Maar die heimwee lê vlak. Hy noem
sy huis „Ons Tuiste“ en sy straatnaam is dieselfde in Afrikaans
en Duits. Hy maak sy merk in die gemeenskap. Stig 'n groot ekonomiese Forum
saam met die
regering en is tien jaar lank president daarvan. Gaan doen gemeeenskapswerk
in Albanië. Maar as
ons vir hulle in hul skilderagtige omgewing gaan kuier, speel hy ons ou skoollied
op die
klavier
en sing elke woord. En FAK liedjies.
Terwyl die sneeu dik buite en op die pieke van die berge lê. Soos ons
altyd in Suidwes net op tjoklit bokse gesien het.
Dit is 'n sekondekykie na Hannes Deetlefs, die skrywer van Boertjie.'n Man
wat vashou aan sy geskiedenis, 'n man wat glo dat ons nooit die verlede mag
misken
nie --- maar dwaas sal wees om nie daaruit te leer nie. Boertjie neem ons
terug na Hannes se verlede en herkoms. Ek hoop dat Boertjie die voorloper
sal wees
tot 'n boek oor sy eie lewe.
'n Filosoof het op 'n keer gesê: 'n Persoon met interessante herinneringe
leef twee keer. Hannes Deetlefs leef meer as twee keer. |
En die skrywer self het die woord:
Die dagboeke van die skrywer
se ouers, letterlik rakke vol, wat vir baie inligting gesorg het.
Een
van daardie Suidwes-winde het met stormsterkte vir my op 'n
triestige Sondag op 29 September 1946 in
Lüderitz, destyds een van die "groot hawestede
van Suidwes-Afrika" ingewaai. En die trein, wat eintlik teen
nege uur
die oggend op Saterdag al verwag is, het so herhaaldelik gefluit dat dit met
groot sekerheid die eerste klank was wat ek gehoor het.
In Windhoek het ek in die Emma-Hoogenhout Laerskool klas gedraf en in die pouses
"Anglo-Boereoorlog"
teen
die "Ingelse" skoliere gespeel, dikwels genoeg met die
gevolg dat
ons val- en bakleimerke van die pouse deur meester se lat nog 'n toevoeging,
gewoonlik "drie van die bestes" aan merke gehad het.
My vader het 1960 skoolhoof van die baie groot Duitse Privaatskool te Johannesburg
geword wat onder andere daartoe gelei het dat ek Matriek met drie A-Tale geslaag
het.
Heel teen my sin is ek nie vir die weermag geloot nie en dit het dinge bietjie
deurmekaar gemaak. Pa was teen die aanname van "enige vreemde geld
of
beurse" want, so het hy altyd beweer, "dit maak jou net
afhanklik".
My familie is toe 1964 terug na Swakopmund en ek moes maar my paadjie in Johannesburg
self vind. Die gevolg was dat ek in die Departement vir Immigrasie in Rissik
Straat Johannesburg as klerk begin werk het. Dit was ongelooflik vervelig.
Ek is toe daar weg en het op my eie 'n vakleerlingskap by 'n bekende Duitse
Firma as kameradeskundige deurloop. Hier het ek geleer wat 'n honderdste Millimeter
presies is.
Tye was egter moeilik en so het ek in Goudstad Onderwyskollege beland. En die
geldjies daarvoor het ek eers elke Saterdag met die bestuur van vragmotors,
later met die bestuur van busse elke oggend en aand verdien. Daar was nie geld
of tyd vir "pub-crawls" of vir meisies nie, wat sekerlik
ook 'n
seën of wat was.
Na Goudstad het ek toerbusse vir 'n heel bekende firma vanaf Johannesburg na
Durban en dan na Kaapstad en terug bestuur. Dit was dan altyd veertien dae
met toeriste van die hele wêreld, heel opwindend. Een van die bates
was
dat ek daar die "nooientjie van my drome" gevind het.
Ek het daarom die toerbus-ryrery laat vaar en in Swakopmund begin skoolhou.
Die Switserse dametjie het woord gehou en ons is daar 1973 getrou, en ons is
vandag, na meer as veertig jaar, nog verlief. Aangesien ons geen kinders kon
kry nie, het ons 'n tien dae oue dogtertjie aangeneem. Ongelukkig het dit later
gebleik dat sy nie wit is nie en toe was "die herrie los".
Op die
ou einde het ons daarom maar ons goedjies gepak en Switserland toe gegaan.
In Switserland moes ek eers leer dat my diplomas glad niks werd is nie en ek
moes van nuuts aanvang. Ook dit was 'n moeilike tyd. Maar, ek het weer onderwyser
geword en tot my aftrede in alle skooltipes onderrig, ook in beroepskole. En
so tussenin het ek met kwaai studie Switserse diplomas vir klavierspeel en
die bou van webwerwe verkry.
Ek word nog altyd aangevra om skool te hou en sou volstoom 'n groot klas vlugtelingkinders
kon onderrig. Maar, ek verkies dit om liewer op my klavier klassieke musiek
te speel of my stoomtrein in die tuin te laat rondry. |
En nou iets oor die Boek “Boertjie”:
Geagte
leser, dit is nou 'n boek om te geniet, om te herinner, om tot
nadenke te beweeg.
Die verhaal van die mense van Suidwes en deels van Suid-Afrika van “daardie
tye” is hier so noukeurig as moontlik aangeteken. Die feite en daarmee
ook die seleksie van temas en gebeure baseer besonders op die baie noukeurige
dagboeke, die talle briewe en foto’s van Hermann Deetlefs en Elisabeth
Deetlefs-Reimer. Groot moeite is gedoen om so korrek as moontlik die gebeurtenisse,
die emosies, die vrees en verwardheid van daardie moeilike tye weer te gee.
Vandag is dit maklik om die genoemde feite per Internet te ondersoek.
Natuurlik
is daar altyd twee of selfs meer weergawes van hierdie historiese
werklikheide: Die wetenskaplik neutrale en die polities gekleurde.
Daar is altyd daarna gepoog om die neutrale feite te gebruik, ook
dan, wanneer die neutrale feite die een of ander party nie gepas
het nie. Baie dinge stem nie meer met die moderne sieninge van
vandag ooreen nie, maar, dit is juis waaroor dit gaan: Die minirokkie
en nog meer die “skandalige” Bikini was destyds groot
nuus, vandag nie. Dit as voorbeeld. Ook is dit 'n feit dat nie
alle bewerings geboekstaaf kan word nie. Baie berus maar op gerugte
en bespiegelinge van daardie dae. Dikwels was dit ook maar net
gesprekke in die teenwoordigheid van die seun en eie dagboek-aantekeninge
wat vir inligting gesorg het.
Persone wat op hul voornaam en van genoem of waar die van met 'n hoofletter
aangedui word, is histories en so ver moontlik korrek weergegee. Persone wat
net met voorname genoem word, is histories korrekte karakters en het wel bestaan
of is die samevoeging van twee of meer “egte” persone van daardie
tyd. Dit geld ook veral vir die lewensverhale van Hermann en Elisabeth Deetlefs
self: Daar is net onbelangrikhede weggelaat. Hul goed gedokumenteerde lewensgeskiedenisse
is al “storie genoeg” maar tog waar van die begin tot die einde.
Dit is vanselfsprekend dat ook fiktiewe brûe gebou moes word om die informasie
sinvol te verbind. Maar ook in die fiktiewe dele is daar gepoog om getrou aan
die werklikhede van daardie tyd te bly. Wat dinge geweldig vergemaklik het
was dat die “Suidwesters” van daardie dae gewoond was om hewig
te redeneer, te praat, te argumenteer. Daar het letterlik niks gebeur wat nie
tot in die fynste besonderhede uitgepluis en daar kant gekies is nie. Dit was
ook makliker, want die mense het geen televisie gehad nie, nee, hulle het tyd
gehad.
Nog 'n laaste woord oor die gebruik van die Afrikaanse taal: Daar is gepoog
om elke individu “sy” of “haar” Afrikaans te laat praat,
al was dit nog so plat of foutief. Net by die gebruik van vloekwoorde is daar
gepoog om 'n gangbare middelweg te vind. “Gekruide taal” en woorde
wat vandag as polities nie aanvaarbaar geld nie, is so vêr as moontlik
vermy. Die geneigde leser sal self weet hoe daardie tipe persone, waarop hierdie
van toepassing was, gepraat het. In elk geval was dit vir die skrywer, wat
self nie vloek nie, ja, nooit gevloek het nie, 'n ietwat moeilike taak om hierdie
middelweg te vind.
Dan nog die woordjies soos “sobyso” en “Usikus” wat
tog so eie aan die Afrikaans van daardie dae in “Suidwes” was. “Sobyso” kom
van die Duitse “sowieso” en beteken “in elk geval”. ’n
Afrikaans-sprekende wat in die Republiek die woord gebruik het, het met die
woord onmiddellik duidelik gestel dat hy 'n“Suidwester” is. En “Usakos” het
net oningewydes gesê. Dit is uitgespreek soos “you-see” in
Engels en “kis” in Afrikaans.
Lekker lees!
|
'n Spesiale
woordjie van dank
- aan my vroutjie Annemarie
vir haar oneindige geduld en haar groot belangstelling in die projek
- aan Meinhard Peters vir die aanstoot daartoe dat ek na dertig jaar weer iets
in Afrikaans sou skryf. Dit was vir die skrywer glad nie maklik om na so 'n?
lang tyd weer in Afrikaans te skryf nie. Verskoon dus asseblief die een of ander “ongewone
Afrikaans”!
- aan Chrisna en Pieter van Rensburg vir hul aktiewe ondersteuning met die voorbereidende
drukwerk
- mnr. Eckart Demasius, Hoof Uitvoerende Beampte (Chief Executive Officer, Stadsklerk)
van die Munisipaliteit van Swakopmund vir die ongewoon groot belangstelling in
die projek. Mnr. Demasius het nie net persoonlik waardevolle inligting kon verskaf
nie, maar ook 72 bladsye van inligting oor die geskiedenis van Swakopmund aan
die skrywer oorhandig.
- Die vroeëre onderburgemeester en latere burgemeester van Swakopmund, Graham
Louw vir sy so lewendige belangstelling in die ontwikkeling van die boek
- Mnr. Ebi Hofmann van die ‘Allgemeine Zeitung’ in Windhoek
- Die Sam Cohen Biblioteek in Swakopmund en daar besonders mev. Maike Behrens-Wohlers
- Professor Dap Louw vir sy heerlike diep geselsies oor daardie tyd in Suid-
en Suidwes-Afrika met inligting wat vir die skrywer van groot waarde was en vir
die skryf van die voorwoord.
Talle, talle wit en swart vriende in Suid-Afrika en in Namibië wat nooit
geskroom het om die tyd te neem om dinge vir die skrywer te verduidelik of op
te klaar nie. |
So 'n paar deeltjies
uit die boek, sommer vir die lekker daarvan.
“Nee! Nee!, dit kan
nie waar wees nie!” Die menigte daar op die groot balkon van
die lughawegebou in Windhoek het gegil, geskreeu, was histeries.
Daar was 'n gemaal by die deure, almal wou onmiddellik uitkom, afkom,
almal was aan die hardloop na hul motors toe.
Die groot Boeing 707 met die naam “Pretoria” was op pad na Londen
toe gewees. Die vliegtuig was eers sewentien dae in diens en het voor almal se
oë so swierig opgestyg dat sommige toeskouers hande geklap en gejuig het...
Hermann het nadenklik gesê: “Elisabeth, soos jy sien, het Suidwes
met 'n skok tot stilstand gekom, en dit sal nog lank aanhou. Die sorgeloosheid
van ons lewe hier in Suidwes het 'n knak gekry! Ons het gesien dat ook die modernste
en nuutste tegniek eensklaps kan faal, en dit sal ook so met alle nuwe politiese
konsepte vir Suidwes en “Pretoria”, ja, die naam van die vliegtuig
is 'n voorspelling, gaan.” |
“Nee, jy gaan nie
sonder my man se geweer terug Afrika toe nie, nee, dit sal ek nie
toelaat nie!”
Sy skoonma was ernstig, baie ernstig. En sy het die semioutomatiese ses-skoot
7.5mm Karabiner uit die kas van haar oorlede man gaan haal. Hermann se seun het
al daaraan gewoond geraak dat Switsers sommer die groot oorlogsgewere gemaklik
oor hul skouers gooi en gaan oefen.
Jy vind sulke mans daaglikse in die busse, in die trems, ja, sommiges selfs op
hul fietse. Hulle moet elke jaar 100 punte by die verskeie skietbane in die stad
gaan skiet, en hulle doen dit graag. Sommige sukkel natuurlik om die een honderd
punte te kry, en dan lag almal. Maar, daar is baie wat sommer tien, twaalf keer
oor die afstand van 300 meter die kol tref. En dit is dan al klaar meer as 100
punte. Dit is vir die Switsers so natuurlik soos drink en eet. Jy kan 'n Switserse
man se vrou van hom vat, maar nie sy geweer nie.
Maar hy, hy moet nou so 'n groot geweer saamvat? 'n Semioutomatiese geweer? 'n
Egte oorlogsgeweer met bajonet? Sommer so?
Sy skoonma reël alles, heel wettiglik. En hy, wat nie eens in die weermag
was nie - hy was destyds in Suid-Afrika nie geloot nie – het die lughawe
van Zürich letterlik gewapend binnegegaan, heel verleë.
Maar, tot sy groot verbasing was dit niks eienaardigs nie. Die dametjie het ewe
koel 'n spesiale houer vir sy geweer gebring en die daarin gepak, tesame met
nog goed 30 patrone, bajonet, skoonmaakgereedskap en al. |
Die lughawe was dood. Geen mens nie. Net daar buite het ongeveer 20 MIG vegvliegtuie
gestaan. Maar, ook daar was geen beweging nie, die hele dag lank nie. In die
saaltjie was dit net een ding: Bedompig en warm. Aangesien niemand 'n visum
vir Angola gehad het nie, moes die 360 passasiers met dit klaarkom wat daar
was. Die mense het op die vloere, op die trappe gesit en wag. Die enigste ding
wat vir duur geld gekoop kon word was warm “Cuca” Bier. Die mense
het ongeduldig en honger geword, die babas en kinders het begin skreeu. Die
tyd het aangestap.
Daar vêr kon mens die vliegtuig sien. Drie, vier mans van die bemanning
het aan die een masjien gepeuter. Hulle het op klein leertjies gestaan. Daar
was geen ander werkers of hulpmiddels te siene nie. Alle gereedskap is in die
vliegtuig self gaan haal en later weer daar versorg.
Op Portugees is weer en weer iets oor die luidsprekers verkondig, maar die
passasiers kon net twee woorde daarvan verstaan: “...problem teknicale”.
Uiteindelik kon almal
teen 2 uur die middag, nog steeds sonder enige verversings, weer
terug vliegtuig toe.
Die vliegtuig was snikheet binne, aangesien geen lugreëling gewerk het
nie. Die passasiers was stil. Hier was groot fout, dit het almal geweet.
Die masjiene is aangeskakel en die vliegtuig het na die begin van die aanloopbaan
gery. Daar het die kaptein die masjiene laat skreeu, maar die vliegtuig het
net heen en weer aan sy geremde wiele geruk. Nog 'n keer en nog 'n keer. Dit
was vir almal duidelik dat hy die masjiene getoets het. Uiteindelik het hy
die remme losgemaak en die vol vliegtuig het begin rol, maar, ag hoe stadig,
hoe lomp.
Die baan het korter en korter geword. Mense het hardop begin bid. Uiteindelik
het die vliegtuig die lug in gegaan, maar onmiddellik daarna weer op sy wiele
geval. Maar, toe, uiteindelik het die vliegtuig stadig maar seker definitief
begin opgestyg.
Die kaptein het en aan almal 'n drankie laat uitdeel. Ongelukkig, het hy afgesluit,
kan hy niks te ete aanbied nie.
Dit was vir almal duidelik dat die kaptein die kans gevat het om die swaar
gelaaide vliegtuig met net drie, eintlik twee masjiene skeef skeef te laat
opstyg. Die Angolese het geweier om met die regmaak van die vierde masjien
te help.
Annemarie het glimlaggend haar toebroodjies uitgehaal toe die waentjie met
die drankies gekom het.“ Ja, die deuntjie van die SAL is tog te waar!” het
sy gelag, nou ontspanne gelag. “’Kom vlieg saam onder
vreemde sterre, avontuur wink van verre! Vlieg elke keer met SAL, SAL....’ Wel,
vir my is dit nou avontuur genoeg die! Ek het liewer ons land se sterre oor
my!” |
Haar seun vertel: “Die
motorfabriek FIAT in Italië beplan nou 'n fabriek wat 'n klein
motortjie, die Fiat Uno, sal vervaardig. Maar, en dit maak die
vakbonde daar so hoogs ontstoke, die hele fabriek sal sonder werkers
wees: alles in die donker, alles met masjiene, twee honderd roboters
bou aan die motor en twintig roboters verf die goed in alle denkbare
kleure, alles sonder mense. En die beste: Elke Fiat word volgens
die wense van die koper al op die band so gebou soos die klant
dit wil hê. Daar is dus nie twee motors wat agter mekaar
die band verlaat wat eners is nie! Nuwe wêreld, die! Maar,
die vakunies is boos, dis waar! Hulle soek werkplekke vir ongeskoolde
werkers, en daar is letterlik miljoene van hulle alleen in Italië!
En, wat meer is, die fabriek moet 1983 al begin produseer! Goedkoop
Uno’s, derduisende elke week. Goedkoop omdat daar geen mensemassas
is wat vir hul werk betaal moet word nie!”
Hy peins: “Behalwe vir die sewe hoogbetaalde spesialiste wat die fabriek
beheer is die eerste mens wat aan die Fiat Uno sal raak die persoon wat in die
nuwe motor klim en die ding van die band afry en buite gaan parkeer. Dit, sê Fiat,
is goedkoper as die ewige bakleiery met die vakunies! Sjoe, as dit waarheid word!
En stel jou voor: So 'n fabriek of myn in Suid-Afrika! Wat sal ons met al die
duisende swart werkers doen?”
|
En om oor na te dink:
Ja,
die Suid-Afrika en die “Suidwes-Afrika” van gister, die deurmekaar van die
verskillende kulture en hul reaksies op die gebeure van daardie dae
is dit, waaroor “Boertjie” gaan, 'n stappie deur
daardie lewe, daardie gedagtes.
En, almal kan daaruit leer, die
geskiedenis
is die leermeester.
|
Die skrywer in sy element...
|